Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 40-50 minute

UIEMARMALADE

60 ml (¼ k) botter

2 uie, in dun wiggies gesny

sout en vars gemaalde swartpeper

60 ml (¼ k) bruinsuiker

60 ml (¼ k) balsemieke asyn

HOENDER

15 ml (1 e) olyfolie

6 hoenderporsies (dye en boudjies)

4 varkworsies

30 ml (2 e) tiemieblare

60 ml (¼ k) witwyn

4 klein witloofkoppe

Voorverhit die oond tot 180 °C.

MARMELADE

Verhit die botter en braai die uie ’n paar minute tot sag.

Geur met sout en peper.

Roer die suiker en balsemieke asyn by.

Roer tot die suiker opgelos is en laat prut 20 minute oor baie lae hitte.

HOENDER

Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die hoender tot bros en bruin.

Geur met sout.

Rangskik die worsies tussen die hoender.

Voeg die tiemie en lepels vol van die uiemarmelade by.

Giet die wyn oor en bedek met foelie.

Bak sowat 40 minute. Sny die witloofstamme af (sowat 2 cm), halveer elkeen en verwyder die wit gedeelte.

Rangskik die witloofhelftes tussen die hoender.

Bak nog 10-20 minute of tot die hoender gaar is.

Sit voor saam met fyn aartappels.

WENK Maak die marmelade dubbel en bêre dit in die yskas; dit hou goed vir ’n paar weke.