Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 minute

Staantyd: minstens 1 uur of oornag

Gaarmaaktyd: 1-1½ uur

MARINADE

500 ml (2 k) lemoensap

1 suurlemoen se skil, gerasper

60 ml (¼ k) sojasous

125 ml (½ k) sagte bruinsuiker

15 ml (1 e) heuning

1 rooi-ui, in kwarte gesny

3 knoffelhuisies, gekneus

2 ml (½ t) tabascosous

15 ml (1 e) tiemie- en/of basilieblare

3 ml (ruim ½ t) aangemaakte mosterd

HOENDER

1 heel hoender, opgebind

sout en gemaalde swartpeper

1 lemoen, in wiggies gesny

2 suurlemoene, in wiggies gesny

3 lemmetjies, in wiggies gesny

’n paar heel knoffelhuisies, geskil maar nie fyn nie

’n paar tiemietakkies

botter

’n bietjie hoenderaftreksel of water

natuurlike jogurt

  1. MARINADE Meng al die bestanddele vir die marinade en giet dit oor die hoender. Laat minstens ’n uur of verkieslik oornag staan sodat die geure goed kan intrek.
  2. Verhit die oond tot 200 °C.
  3. HOENDER Plaas die hoender in ’n oondpan met die borskant na bo. Geur van binne en buiteom met sout en peper.
  4. Plaas die gesnyde sitrusvrugte, knoffel en tiemietakkies rondom en giet die marinade oor.
  5. Vryf botter oor die vel van die hoender en oondbraai 15 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C en oondbraai nog 1-1½ uur of tot die vleis sappig en gaar is. Smeer tussendeur met nog botter en bedruip met die marinade.
  6. Plaas die hoender op ’n dienbord en rangskik die sitrusstukke rondom.
  7. Voeg ’n bietjie hoenderaftreksel of water by die pansappe en laat goed kook op die stoof. Kook af tot ’n geurige sous.
  8. Roer ’n skeppie natuurlike jogurt by die sous en sit voor saam met die hoender.
  9. Sit voor met ’n vars groenslaai.

BEREI DIE VOLMAAKTE BRAAIHOENDER

  • Verhit die oond tot 200 °C.
  • Druk die hoender droog met droë velle handdoekpapier. Vryf dit goed met olyfolie in en geur binne en buite met sout, peper en paprika.
  • Plaas ’n suurlemoen of ’n geskilde ui waarin 4 naeltjies gedruk is, in die holte en bind die hoender as sodat dit sy vorm behou.
  • Sny aartappels in die helfte en plaas dit op ’n bakplaat.
  • Plaas ’n rak bo-oor die aartappels en plaas die hoender daarop.
  • Oondrooster 15 minute, verlaag die hitte tot 160 °C en rooster nog 1-1¼ uur of tot die hoender gaar en die vel bros en goudbruin is. Verwyder die aartappels saam met die hoender uit die oond.
  • Sit die hoender voor saam met die aartappels, gestoomde groente en ’n groenslaai.

WENK As die hoendersappe helder is (nie pienk nie) wanneer jy ’n sosatiepen in die dikste deel van die hoender steek, is die hoender gaar.