Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 1 uur

1 kg hoenderstukke

45 ml (3 e) olyfolie

1 ui, gekap

3 knoffelhuisies, fyngedruk

5 cm-stuk vars gemmer, fyn gerasper

2 kaneelstokke

5 ml (1 t) fyn gemmer

1 x 400 g-blik gekapte tamaties

5 ml (1 t) harissa-pasta

300 ml hoenderaftreksel

30 ml (2 e) heuning

15 ml (1 e) suurlemoensap

250 g volgraankoeskoes

  1.  Ontvel die hoenderstukke en geur dan oraloor. Verhit 30 ml (2 e) olyfolie in ’n soteerpan. Voeg die hoender by en braai, terwyl jy omdraai, tot oraloor verbruin. Skep op ’n bord uit en hou warm.
  2.  Voeg die res van die olyfolie en die ui in die pan. Braai terwyl jy roer 5 min. oor matig tot hoë hitte tot sag en goudkleurig. Voeg die knoffel, gemmer en kaneel by en braai nog 2 min. Voeg die fyn gemmer by en braai 1 min.
  3.  Roer die tamaties en harissa-pasta in en kook 5 min. Roer die hoenderaftreksel in en bring tot kookpunt. Sit die hoender terug in die pan, bedek en laat prut 20 min.
  4.  Wanneer die hoender gaar is, skep die stukke op ’n bord uit en bedek met kleefplastiek om dit klam te hou. Stel die hitte hoër en laat kook die sous sowat 10 min. tot dit met sowat die helfte verminder het. Voeg die heuning by, laat prut nog 2 min. en roer dan die suurlemoen in.
  5.  Berei die koeskoes volgens die aanwysings op die verpakking en sit saam met die hoender en sous voor.

Deur Hope Malau

Foto’s: Jacques Stander