’n Bedruipsous in die Oosterse styl gee hierdie hoendergereg ’n pikante smaak.

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaak 30 minute

45 ml (3 e) olie

sout en peper

5 ml (1 t) Chinese vyfspeserymengsel

1,5 kg hoenderstukke, teen kamertemperatuur om te verseker dit word egalig gaar

5 knoffelhuisies

7 cm gemmer, gekap

BEDRUIPSOUS

60 ml (¼ k) sojasous

30 ml (2 e) brandrissiesous

30 ml (2 e) heuning

’n knippie brandrissievlokkies

GROENTE

250 g babawortels

100 g groenbone

100 g blomkool

100 g broccoli

50 g botter

2 cm gemmer, fyn gekap

1 beet, gekook en in skywe gesny

  1. Voorverhit die oond tot 220 °C. Meng 30 ml (2 e) van die olie met sout, peper en vyfspeserymengsel. Vryf die mengsel oor die hoender.
  2. Verhit die oorblywende 15 ml (1 e) olie in ’n roosterpan oor matige hitte en verbruin die hoender alkant. Strooi die knoffel en gemmer oor die hoender en plaas dit ’n kwartier in die oond.
  3. Bedruipsous: Meng al die bestanddele.
  4. Verminder die oondtemperatuur tot 170 °C. Bedruip die hoenderstukke met die sous en bak 10 minute. Bedruip dit twee keer tydens die gaarmakery.
  5. Groente: Bring ’n pot gesoute water tot kookpunt en kook die wortels, bone, blomkool en broccoli. Dreineer.
  6. Smelt die botter in ’n pan saam met die gemmer en bedruip oor die groente. Voeg die beetskywe by en sit saam met die hoender voor.