Hierdie resep kom uit Herman Lensing se boek, VOORSKOOT. Genoeg vir 6 persone Hoender

  • 250 ml tamatiesous
  • 160 ml sonneblomolie
  • 45 ml worcestersous
  • 100 ml blatjang
  • 45 ml heuning
  • 35 g (45 ml) bruinsuiker
  • 6 dy-en-boud-hoenderporsies
  • sout en varsgemaalde swartpeper
Slaai
  • 80 ml olyfolie
  • 1 hand vol vars koljander, fyngekap
  • sap en skil van 2 suurlemoene
  • 1 x 350 g-pakkie Franse groenbone, vir 1 minuut in kookwater gedompel
  • 1 x 140 g-bakkie sneeu-ertjies (mangetouts), oorlangs dun gesny
  • 1 x 200 g-pakkie suikerertjies (sugar snap peas), oorlangs gehalveer
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  1. Kry jou vuur aan die gang sodat jy lekker warm kole het vir wanneer jy reg is om die hoender te braai. Meng die eerste ses bestanddele saam vir die marinade. Plaas die hoender in ’n plat bak en gooi die marinade daaroor. Geur goed met sout peper en mikrogolf 10 minute op hoog om dit halfgaar te maak.
  2. Terwyl die hoender in die mikrogolf is, maak die slaai: Meng die olyfolie, koljander en suurlemoensap en -skil saam. Plaas die bone en ertjies in ’n slaaibak en gooi die slaaisous daaroor. Geur na smaak met sout en peper. Meng goed deur.
  3. Plaas die hoenderporsies op ’n toeklaprooster en braai sowat 5–8 minute per kant of tot goudbruin en gaar.
  4. Sit voor met die boontjie-en-ertjieslaai.
  • WENK: Maak die hoender halfgaar in die marinade om die braaityd te verkort. As jy verkies om dit lank en stadig oor die kole te braai, kan jy dit natuurlik doen. Om te toets of die hoender gaar is, druk ’n skerp messie in die dikste deel van ’n porsie in. As die sappe wat uitloop helder is, is die vleis gaar.

Meer oor VOORSKOOT

VOORSKOOT is Herman Lensing se eerste resepteboek. Om dit te bestel, KLIK HIER.

Volg Herman op Twitter: www.twitter.com/hermanlensing

Voorskoot