Dis heerlik vir ’n ligte ete – amper iets soos die Cheezas van vroeër jare wat jy by Juicy Lucy kon bestel. Die hoender word met mayonnaise en tamatiesous gemeng en dan op ’n ciabatta-broodjie gestapel. Bo-op kom avokado en natuurlik kaas wat jy dan vinnigvinnig in die oond smelt.

4 hoenderborsies (500 g), sonder vel en been

60 ml Kraft-mayonnaise

60 ml tamatiesous

2 sprietuie, fyngesny

20 ml gekapte, vars pietersielie

2 ciabattas, deurgesny

1 ferm, ryp avokado, geskil en in skywe gesny

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

4 skywe cheddarkaas

fyn paprika

Skakel die oondrooster aan.

Maak die hoenderborsies gaar soos verkies.

Sny elke borsie in 4 lang skywe.

Meng die mayonnaise, tamatiesous en die helfte van die sprietuie en al die pietersielie.

Plaas die ciabattas op ’n bakplaat en rooster liggies.

Smeer die mayonnaisemengsel oor elke halwe skyf ciabatta.

Pak die hoender en avokado bo-op en geur na smaak.

Plaas die kaas bo-op en sprinkel die res van die sprietuie en die paprika oor.

Rooster 1 – 2 minute tot die kaas gesmelt is.

Sit dadelik voor.

Genoeg vir 4 mense.

SAKPASWENK Vervang die ciabatta deur deurgesnyde Portugese rolletjies