Hierdie resep kom uit Jan Braai se tweede resepteboek, Vuurwarm.  Vir 6 mense

  • 'n koppie botter (125 g)
  • 1 sopie plantolie
  • 1 ui (fyngekap)
  • 2 huisies knoffel (fyngekap)
  • gemmer (dieselfde volume as die knoffel; gerasper)
  • 1 teelepel rooibrandrissiepoeier
  • 1 teelepel borrie
  • 1,5 kg ontbeende
  • Hoenderdytjies (of borsies, in groot stukke opgesny)
  • 2 teelepels vinkelsaad (of gemaalde vinkel/barishap)
  • 4 kardemompeule (gekneus)
  • 100 g kasjoeneute (1 pakkie; kneus die neute met jou stamper en vysel)
  • 1 blikkie tamatiepuree (so 410 g; moet dit nie verwar met tamatiepasta (dikker en in kleiner blikkies) of met opgekapte tamaties nie)
  • 1 blikkie ingedampte melk (of klappermelk, of dieselfde volume jogurt)
  • 1–2 teelepels sout
  • ’n teelepel swartpeper
  • ’n koppie vars koljanderblare (rofweg opgekap; opsionele garnering)
LAAT WAAI!
  1. Sit die botter en die olie in jou potjie op ‘n medium-warm vuur. Wanneer die botter gesmelt het, voeg jy die uie by. Braai die uie vir ‘n paar minute tot hulle begin sag word, maar nie bruin is nie. Dit lyk dalk na baie botter, maar die dis se naam is immers botterhoender.
  2. Voeg die knoffel, gemmer, rooipeper en borrie by en braai vir 1 minuut.
  3. Nou voeg jy die hoenderstukke by. Braai hulle vir so 5 tot 8 minute (afhangend van hoe warm jou vuur is) tot goudbruin.
  4. Voeg die vinkelsade, kardemompeule en kasjoeneute by, roer deeglik en braai vir nog 1 tot 2 minute.
  5. Gooi die tamatiepuree en ingedampte melk by, kry die mengsel aan die kook en laat
  6. prut vir omtrent 10 minute totdat die sous ongelooflik lekker ruik en die hoender gaar is.
  7. Nou gooi jy ordentlik sout en peper by, roer nog ‘n laaste keer en haal die potjie van die vuur af.
  8. Bedien met rys en garneer met gekapte koljander.

EN ...

Die kanse is goed dat jou gaste regtig mal gaan wees oor die kos en jou vra om dit weer te maak vir ‘n spesiale geleentheid soos jou geliefde se verjaardagpartytjie of jou ouma se brugklubjaarvergadering. Vir so ‘n groot geleentheid kan jy almal beïndruk deur ‘n paar kasjoeneute in ‘n warm pan droog te rooster en oor die dis te saai.

Meer oor Vuurwarm

In sy tweede boek, Vuurwarm gaan Jan Braai verder as algemene raad oor vuurmaak en die braai van steak, tjops, hoender en wors: Hy daag lesers uit om ook sy heerlike kerrie-potjies, pannekoek, hoender-mayonnaise broodjies, malvapoeding en appeltert op ’n oop vuur te probeer! Vuurwarm spog ook met maklike instruksies, volkleur foto’s en Jan se kenmerkende braaihumor. Dié pragboek is gepak met meer as 80 lusmaak-resepte, wat alle braaiers – van beginners tot dié wat wéét – sal inspireer om vriende en familie te nooi vir smulkos en samesyn.

JanBraaiVuurwarm