Dié hoender lyk en proe so deftig, maar is verspot maklik om te maak. Heinz gebruik graag roomkaasrolle met die kruie rondom hiervoor, dan het jy net 3 bestanddele nodig.

Genoeg vir 6-8 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 45-50 minute

230 g roomkaas

60 ml (¼ k) tamatiepesto

15 ml (1 e) vars basilieblare

of enige ander vars kruie, gekap

8 hoenderporsies met vel en been (dytjies en boudjies)

vars gemaalde sout en peper

’n paar swart olywe

30 ml (2 e) olyfolie

Voorverhit die oond tot 180 °C. Verf ’n oondbak met olie.

1 Meng die roomkaas, tamatiepesto en basilieblare vinnig.

2 Druk jou vinger onder die velletjie van elke hoenderporsie om dit te lig en effe los te maak sonder dat dit heeltemal van die vleis loskom.

3 Vul die holte met die roomkaasmengsel en steek die vel weer vas met ’n peuselstokkie.

4 Plaas die hoender in ’n oondbak en besprinkel met sout en peper. Voeg die olywe by.

5 Giet die olyfolie oor die hoender en bak 45-50 minute of tot gaar.

6 Sit voor met slaai en geroosterde groente.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Huisgenoot, 6 Oktober 2011.