1. Neuthoender:

Maak ’n mengsel van gekapte neute en kruie soos roosmaryn of tiemie, gekapte knoffel en ’n bietjie botter. Maak die vel los oor die dytjies en borsgedeelte en druk die mengsel daarin. Geur met sout en peper, smeer met olie en oondbraai ’n kwartier teen 230 °C, verlaag die temperatuur tot 180°C en oondbraai nog ’n driekwartier tot ’n uur tot gaar.

2. Thaise hoenderkerrie:

Roerbraai 2-3 knoffelhuisies in olie tot sag. Meng sowat 45-60 ml Thaise rooikerriepasta met ’n blik klappermelk of helfte jogurt. Giet in die pan en verhit. Sny vier hoenderfilette in blokkies of repies en voeg by. Laat prut tot gaar. Giet die sap en skil van ’n lemmetjie, ’n paar skote sojasous en ’n goeie hand vol gekapte koljander by. Voeg groenbone of repies kool by en maak net warm tot gaar maar nog bros. Voeg laastens ’n paar klein tamaties by en rond af met ’n bondel koljanderblare. Sit voor op jasmyn- of basmati-rys en sprinkel grondbone oor.

3. Vinnige tamatiehoender:

Sny vier hoenderfilette in repies of blokkies. Geur met sout en peper en braai in olie tot effens bruin. Meng tamatiepesto met natuurlike jogurt tot loperig en voeg by die hoender. Laat prut tot gaar en geurig. Sprinkel basilieblare oor en sit voor met pasta en parmesaankaas. (Wenk: Jy kan selfs die hoender in parmesaankaas rol voor jy dit braai.)

- Deur Carmen Niehaus, kosredakteur Huisgenoot & YOU