Beproef Huisgenoot se maklike en smaaklike spyskaart vir Moedersdag. Die resepte is eenvoudig genoeg vir kinders om te maak en Pa kan hand bysit met skerp messe en die braai.

Voorgereg: Tortillas met worsfrikadelle en ’n Griekse sous

frikadel0

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: sowat 20 minute

  • 300 g boerewors
  • 4 sagte tortillas
  • ’n handvol basilieblare
  • Bestanddele vir sous:
  • 1 klein komkommer, fyn gerasper
  • 250 ml (1 k) Griekse jogurt
  • 30 ml (2 e) gekapte kruisementblare
  • 2 knoffelhuisie, fyngedruk
  • sout en vars gemaalde peper

Voorverhit die oond tot 180 °C en bedek ’n bakplaat met foelie.

  • Druk die vleis uit die derm en vorm klein balletjies met die maalvleis. Rangskik die balletjies op ’n bakplaat en bak 10
  • 15 minute of tot gaar.

Vir die sous:

  1. Rasper komkommer en sit dit in ’n sif sodat die meeste van die vloeistof kan deurdrup.
  2. Sit die komkommer in ’n skoon afdroogdoek en druk al die oortollige vloeistof uit.
  3. Meng die komkommer met die jogurt, kruisementblare en knoffel en geur met sout en peper.
  4. Verhit die tortillas in die oond of mikrogolfoond en pak dit saam met die maalvleisballe en jogurtsous in ’n mooi opskepbak.
  5. Garneer met basilieblare en sit voor terwyl warm.

Hoofgereg: Lamstjops met kruisementsous

tjops

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 5 minute

Staantyd: 1 uur

Gaarmaaktyd: 15 minute

Kruisementsous

  • 10 ml (2 t) gemaalde gemmer
  • 80 ml (? k) gekapte vars kruisement
  • 60 ml (¼ k) gekapte vars koljander
  • 1 groen brandrissie
  • 2 ml (½ t) vyfspeserypoeier
  • 15 ml (1 e) heuning
  • 60 ml (¼ k) ryswynasyn
  • 125 ml (½ k) olie
  • sout en peper

Vleis

  • 6 lamstjops

  1. Kruisementsous Verwerk die sousbestanddele in ’n voedselverwerker tot ’ n gladde puree. Proe en pas die hoeveelheid geurmiddels aan na smaak.
  2. Vleis: Plaas die tjops in ’n seëlbare sak, giet 45 ml (3 e) van die kruisementsous in en laat ’n uur marineer in die yskas.
  3. Voorverhit die rooster tot matig hoog. Rooster die tjops vyf minute weerskante.
  4. Verplaas die tjops na borde en skep die oorblywende kruisementsous oor. Sit voor met rys.

Nagereg: Kondensmelkglasies

kondensmelk-main

Lewer 4 glase of ’n tert van 25 cm

Bereiding: 30 minute

Verkoeltyd: 2-3 uur

  • 1 blikkie (385 g) kondensmelk
  • 385 ml melk
  • 385 ml water
  • 40 ml (8 t) vlapoeier
  • 1 pak (200 g) Mariebeskuitjies, fyn gedruk

As jy ’n tertbak gaan gebruik: Smeer ’n bak van 25 cm.

  1. Meng die kondensmelk, melk en water in ’n kastrol en laat kook.
  2. Los die vlapoeier in ’n bietjie water op, meng met ’n bietjie van die kondensmelkmengsel en voeg dan by die res van die kondensmelkmengsel. Roer goed tot dit verdik het en begin kook. Verwyder van die hitte en laat afkoel.
  3. Plaas ’n laag beskuitjiekrummels onderin elke glas of op die boom van die gesmeerde tertbak. Giet ’n laag vlamengsel bo-oor. Herhaal die lae 3 keer en eindig met ’n laag krummels.
  4. Laat 2-3 uur in die yskas stol.