Xmas combo

EK IS mal oor hoe Pinterest ’n venster op ’n wye wêreld vol kreatiwiteit bied, en nêrens is dit duideliker te sien as in die slim Kersversiering-idees wat mense op dié sosiale webtuiste deel nie. Hier is nege werklik eenvoudige idees wat ’n fantastiese kinkel by jul Kerskuiers gaan voeg.

Eetbare krans

[caption id="attachment_50263" align="aligncenter" width="300"]Picture pinned from 4.bp.blogspot.com Foto oorgespeld van 4.bp.blogspot.com[/caption]

Wat ’n oulike idee vir happies of ’n slaai voor ete! Italiaanse babatamaties, bocconcini (klein mozzarella-balletjies) en groen- en swartolywe rus op ’n bed roosmaryntakkies. Onthou om peuselstokkies te voorsien as dit ’n happie-bord is. Vir ’n slaai kan jy wilderoket pleks van die roosmaryn gebruik. En as jy dit op ’n buffet of aan tafel voorsit, kan jy ’n stewige rooi of goue kers in die middel neersit.

Kaasboompies

[caption id="attachment_50264" align="aligncenter" width="400"]Pictures pinned from Mariana Ochoa (left) and Sarah Wolfe Foto’s oorgespeld van Mariana Ochoa (links) en Sarah Wolfe[/caption]

Twee Kersweergawes van ’n kaasbord – een met druiwekorrels, die ander met Italiaanse babatamaties. Albei word met tiemie afgerond, maar roosmaryntakkies sal ook ’n Kersgevoel gee.

Bethlehem-ster

[caption id="attachment_50265" align="aligncenter" width="300"]Picture pinned from Melissa Martin Foto oorgespeld van Melissa Martin[/caption]

Kinders sal gek wees oor hierdie waatlemoen-sterysies en kan dit sommer self ook prakseer. Sny die waatlemoen in dun skyfies (die pitlose soort werk die beste as jy kans sien om ekstra te betaal) en druk dan die stervorms met groot koekiedrukkers uit. Die bloubessies wat aan die dun bamboesstokkies geryg word, is opsioneel omdat nie alle kinders van die suur smaak hou nie.

Waatlemoenboompies

[caption id="attachment_50266" align="aligncenter" width="300"]Picture pinned from Lolly Christmas Foto oorgespeld van Lolly Christmas[/caption]

Dis soortgelyk aan die sterre maar met ’n bietjie skil aan om hulle stewig te hou en as “handvatsels” te dien. Dié boompies word met die hand uitgesny eerder as met ’n koekiedrukker – begin met driehoeke en sny dan happies uit om die boomvorm te skep.

Op jul hoede

[caption id="attachment_50267" align="aligncenter" width="300"]Picture pinned from 25.media.tumblr.com Foto oorgespeld van 25.media.tumblr.com[/caption]

Hierdie idee is so dierbaar dat dit oor en oor in verskillende weergawes op Pinterest opduik. Die basis word met ’n ronde koekiedrukker uit ’n groot bruintjie-plaatkoek gedruk en kry dan ’n gladde kol gesmelte sjokolade bo-op. Dan volg ’n blerts versiersel (kry ’n resep hier), gevolg deur ’n aarbei en ’n piepklein opgespuite versierselspikkel vir die tossel. Oulik en ’n heerlike smaakkombinasie.

Net twee is nodig

[caption id="attachment_50268" align="aligncenter" width="300"]Picture pinned from deliciousmagazine.co.uk Foto oorgespeld van deliciousmagazine.co.uk[/caption]

Hierdie eetbare versierings kom uit die Britse tydskrif Delicious en het net twee bestanddele – dit kan nie makliker nie. Al wat jy nodig het, is ’n rol gekoopte skilferkorsdeeg en ’n paar eetlepels suikerkorrels. Rol die deeg oop, borsel met water en besprinkel met die suiker. Sny feestelike vorms uit met ’n koekiedrukker en rangskik taamlik ver uit mekaar op ’n bakplaat. Bak 10-12 minute teen 220 °C of tot goudkleurig en gaar. Besprinkel met ekstra suiker en sit voor saam met geklopte room en konfyt of bessiepuree.

Moenie dié koekies te lank voor die tyd maak nie want hulle moet binne twee dae geëet word.

Versiersuikerboompies

[caption id="attachment_50269" align="aligncenter" width="300"]Picture pinned from Jamie Sandifer Foto oorgespeld van Jamie Sandifer[/caption]

Dié is my gunstelinge! Bak plat sjokoladebruintjie-kolwyntjies en maak botterversiersel wat met groen voedselkleursel versier is. Sny die punte van aarbeie netjies en reguit af. Plak die aarbeie bo-op die kolwyntjies met ’n spatsel versiersel. Spuit dan groen rosette regoor die aarbeie en versier met suikersterre en rooi en wit lekkergoed. As jy nie tyd het om die sterre te maak nie, kan jy eetbare blinkertjies oor die versiersel sprinkel.

Keëlbome

[caption id="attachment_50270" align="aligncenter" width="275"]Picture pinned from Alicia Emert Foto oorgespeld van Alicia Emert[/caption]

Nog eetbare versierings vir jou Kerstafel. Die foto’s vertel die storie: Kolwyntjies kry wit botterversiersel op en die suikerkeëls word dan daarin gedruk en met groen botterversiersel bespuit. Die prentjie word deur koekversierings soos silwer balletjies afgerond.

Geniet dit!

- Alfie

- Alfie

Alfie Steyn, Pinterest blogger Alfie Steyn is Huisgenoot en YOU se produksieredakteur en ook ’n geesdriftige selfdoener. Sy is verantwoordelik vir Huisgenoot en YOU se dekor- en selfdoeninskrywings op die sosiale netwerktuiste Pinterest.

Volg Huisgenoot op Pinterest