Dié geurige muffins kry, buiten wortels, ook nog ’n goeie skoot patat in wat help om die glisemiese indeks daarvan te verlaag.

Ons het die suiker- en olie-inhoud ook heelwat verlaag om die kolwyntjies gesonder te maak.

Lewer 12 kolwyntjies

Bereiding: 15-20 minute

Baktyd: 30-40 minute

MUFFINS

160 ml (2/3 k) bruinsuiker

125 ml (½ k) olie

5 ml (1 t) vanieljegeursel

3 ekstragroot eiers

375 ml (1½ k) koekmeel

15 ml (1 e) bakpoeier

knippie sout

2 ml (½ t) fyn kaneel of neutmuskaat

500 ml (2 k) fyn gerasperde geelwortels

250 ml (1 k) fyn gerasperde patat

125 ml (½ k) sultanas

250 ml (1 k) amandelbrokkies of gekapte okkerneute

fyn gerasperde skil van ’n halwe suurlemoen

15 ml (1 e) suurlemoensap

VERSIERSEL

200 g gladde laevet-maaskaas

45 ml (3 e) versiersuiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas papierhouertjies in die holtes van ’n muffinpan.

  1. MUFFINS Klits die suiker en olie tot romerig. Klits die vanieljegeursel en die eiers by. Sif die koekmeel, bakpoeier, sout en speserye oor en vou in. Voeg die res van die muffinbestanddele by en meng deur.
  2. Skep die muffinholtes driekwart vol. Bak 30-40 minute tot dit gaar is of ’n toetspen skoon uit die middel kom. Keer op ’n draadrakkie uit en laat heeltemal afkoel.
  3. VERSIERSEL Meng al die bestanddele van die versiersel en smeer oor elke muffin net voor opdiening.