Bereiding: 10 minute

Baktyd: 25 minute

Lewer 12 kolwyntjies

375 ml (1½ k) meel

7,5 ml (1½ t) bakpoeier

’n knippie sout

125 ml (½ k) botter

250 ml (1 k) strooisuiker

2 eiers

5 ml (1 t) vanielje-ekstrak

125 ml (½ k) karringmelk

Versiersel

140 g botter

375 ml (1½ k) versiersuiker

5 ml (1 t) vanielje-ekstrak

30 ml (2 e) melk

’n paar druppels geel, rooi en oranje koskleursel

1.    Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n muffinpan met papierdoppies uit en sit eenkant. Sif die meel, bakboeier en sout in ’n middelslag-bak en sit eenkant.

2.    Meng die botter en suiker in ’n elektriese menger op medium spoed vir 5 minute of tot bleek, lig en donsig.

3.    Voeg die eiers een-een by en meng goed ná elke byvoeging. Skraap die kante van die bak, voeg die vanielje by en meng goed.

4.    Vou die droë bestanddele by en dan die karringmelk en meng goed met ’n rubberspatel. Verdeel die deeg tussen die doppies en bak 25 minute of tot goudkleurig.

5.    Laat die kolwyntjies 5 minute afkoel en haal hulle dan uit en pak hulle op ’n afkoelrak om heel af te koel voor jy hulle versier.

6.    Versiersel: Klits die botter tot sag. Voeg die helfte van die versiersuiker by en klits tot glad. Voeg die vanielje-ekstrak, oorblywende versiersuiker en melk by. Klits tot glad. Skep die versiersel in drie bakkies. Meng geel kleursel in die eerste bakkie in, oranje in die tweede een en rooi in die derde een tot hulle die kleur van vlamme het.

7.    Skep die oranje versiersel aan die een kant van ’n versiersak met ’n stervormige tuit in, die geel versiersel aan die ander kant van dieselfde versiersak en die rooi versiersel tussen die twee kleure. Draai die bokant van die sak en druk die versiersel liggies op ’n bord uit tot die drie kleure meng en soos marmer lyk. Druk die versiersel op die kolwyntjies uit sodat dit soos ’n vlam lyk.

- Hope Malau