Maak 10

Bereiding: 10 min.

Rustyd: 50 min.

Gaarmaaktyd: 20 min. 

4 x 250 ml (4 k) meel

10 g droë gis

5 ml (1 t) sout

10 ml (2 t) suiker

375 ml (1½ k) louwarm water

olie vir diepbraai

  1. Sif die meel, gis, sout en suiker in ’n bak. Voeg die water by en meng goed.
  2. Skep oor op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en knie vir vyf minute of tot deeg sag is.
  3. Bedek en hou 40 minute in ’n warm plek of tot die grootte verdubbel het. Druk die lug uit die deeg en knie ’n minuut. Verdeel in balletjies van 15 g elk.
  4. Sit eenkant op ’n skinkbord op ’n warm plek en laat dit 10 minute in grootte verdubbel.
  5. Verhit intussen ’n pot olie oor matige hitte. Hou die temperatuur tussendeur dop deur ’n klein stukkie deeg in die olie te plaas. Dit moet deurkook, maar nie te vinnig bruin word nie.
  6. Sodra die olie reg is, plaas twee tot drie deegballetjies daarin en kook drie minute; draai dit halfpad deur om. Verwyder met gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier. Doen dieselfde met die res van die deeg.
  7. Bedien met konfyt en kaas of enige vulsel wat jy verkies.

Deur Hope Malau