Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 50 minute

Genoeg vir 6 mense

800 g (2 pakke) broskorsdeeg

2 uie, in skywe gesny

30 ml (2 e) olie

125 ml (½ k) vars pietersielie, gekap

6 skywe spekvleis, in blokkies gesny

500 ml (2 k) wit cheddarkaas

375 ml (1½ k) room

3 eiers

sout en peper na smaak

2,5 ml (½ t) neutmuskaat

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Rol die deeg op ’n effens gesmeerde oppervlak oop.

Smeer ’n groot, ronde tertpan en voer dit met die deeg uit.

Sny enige oortollige deeg om die rand af.

Voer die deeg met bakpapier uit en vul dit met droë bone.

Bak 12 minute.

Haal die bakpapier uit en bak nog 8 minute.

Verlaag die hitte tot 180 °C.

Kook die uie in warm olie in ’n pan oor medium hitte tot gekaramelliseer.

Verwyder dit van die hitte en roer die pietersielie en spekvleis in.

Skep die helfte van die uiemengsel in die tertdop, bedek met kaas en skep dan die oorblywende uiemengsel oor.

Klits die room en die res van die bestanddele en gooi dit oor.

Bak 30 minute of tot geset.

Laat dit afkoel op ’n bakplaat op ’n draadrak.