Moenie bekommerd wees as dit in die middel insak terwyl dit afkoel nie, dis bedoel om so te wees.

LEWER 1 KOEK (8 SNYE)

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 1½ uur

180 g ongesoute botter

180 ml (¾ k) strooisuiker

3 eiers, geskei

60 ml (¼ k) whisky

15 ml (1 e) vanieljegeursel

200 g donkersjokolade, gesmelt

250 ml (1 k) bruismeel, gesif

sjokoladekrulle vir versiering

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 23 cm-veerklamppan en voer die boom uit met bakpapier. Smeer die papier ook.

  1. Klits die botter en 125 ml (½ k) van die suiker saam tot lig en donsig. Voeg die eiergele, whisky en vanielje by en klits tot goed gemeng.
  2. Voeg die afgekoelde gesmelte sjokolade by en klits liggies. Vou die gesifte meel in.
  3. Klits die eierwitte tot sagte punte begin vorm en voeg die res van die suiker geleidelik by terwyl gedurig geklits word. Roer ’n kwart van die eierwitmengsel by die sjokolademengsel en vou dan die res van die eierwitmengsel versigtig in.
  4. Giet die beslag in die voorbereide pan. Bedek dit met tinfoelie en bak 30 minute. Verwyder die tinfoelie en bak nog 60 minute of tot die koek gaar is. Maak die rand met ’n mes los en laat die koek in die pan afkoel. Versier met sjokoladekrulle.