Genoeg vir 6

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 90 min.

670 g gebottelde morello-kersies

250 g botter

300 g donkersjokolade

8 eiers, geskei

625 ml (2½ k) strooisuiker

125 ml (½ k) kakao

125 ml (½ k) suurroom

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n 22 cm-koekpan met bakpapier uit.

  1. Plaas die kersies op ’n bakplaat (hou die vloeistof) en bak 30 min. of tot droog en effens gerimpel.
  2. Smelt die botter en sjokolade in ’n bak oor ’n kastrol pruttende water. Klits die eiergele en 500 ml (2 k) suiker tot dik en vaal, en vou dan die kakao en suurroom in. Voeg die gesmelte botter en sjokolade by, roer tot glad en vou die kersies deur.
  3. Klits die eierwitte in ’n groot mengbak tot sagte punte vorm en voeg die oorblywende suiker by terwyl jy steeds klits. Hou aan klits tot ferm punte vorm. Vou die eierwitte sagkens in sarsies deur die sjokolademengsel.
  4. Giet in die koekpan en bak 1 uur of tot die kante geset het, maar die middel nog ’n bietjie klam is. Sit eenkant sodat dit in die pan kan afkoel.
  5. Gooi die kersievloeistof in ’n kastrolletjie en laat prut tot die vloeistof gehalveer het. Giet in ’n opdienbeker. Haal die koek uit die pan en plaas dit op ’n opdienbord. Bestuif met kakao.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan