In ons resep versterk die beet, wat tradisioneel gebruik word om rooifluweelkolwyntjies mee te maak, die geur van die sjokolade.

Lewer 18 kolwyntjies

Bereiding: 10 min.

Bak: 20 min.

170 ml (2/3 k) kakaopoeier

375 ml (1½ k) meel

10 ml (2 t) bakpoeier

250 ml (1 k) strooisuiker

3 eiers

225 g beet, gekook

125 ml (½ k) melkswartbier

125 ml (½ k) olie

VERSIERSEL

200 g botter, versag

200 g roomkaas

375 ml (1½ k) versiersuiker

2,5 ml (½ t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n muffinpan met papierdoppies uit.

  1. Sif die kakao, meel, bakpoeier en strooisuiker in ’n bak.
  2. Blits die eiers, beet, melkswartbier en olie in ’n voedselverwerker tot glad. Meng die beetmengsel goed by die meelmengsel in.
  3. Skep die mengsel in die muffindoppies en bak 20 min. of tot dit gerys het en die bokante veeragtig is wanneer jy daaraan raak. Sit dit eenkant om af te koel.
  4. Versiersel Klop die botter en roomkaas in ’n bak tot glad. Klits dan die versiersuiker stadig in en voeg die vanieljegeursel by. Spuit of skep die versiersel op die kolwyntjies.