Lewer 25 beskuite

Bereiding: 15 min.

Rys: 1½ uur

Gaarmaak: 25 min.

Uitdroog: 6 uur

125 g botter, kamertemperatuur

4 x 250 ml (4 k) bruismeel, gesif

2 eiers, geklits

10 g gis

30 ml (2 e) strooisuiker

15 ml (1 e) louwarm water

5 ml (1 t) anyssaad

80 ml (? k) rosyne

’n knippie sout

180 ml (¾ k) warm melk

10 ml (2 t) olie

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 2 middelslagbroodpanne.

  1. Vryf die botter en meel met jou vingerpunte in ’n bak tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die eiers by. Voeg die gis by en 2 ml (½ t) van die strooisuiker gemeng met die water. Voeg die anyssaad, rosyne, oorblywende strooisuiker, sout, melk en olie by en meng liggies. Plaas in ’n gesmeerde bak, bedek en laat rys 1 uur.
  2. Breek die deeg in ewe groot gholfbalgrootte-balle, pak hulle in die broodpanne en sit 30 min. eenkant om te rys. Bak 25 min. of tot goudbruin. Breek uitmekaar en keer op ’n draadrak uit.
  3. Verminder die hitte tot 70 °C met die waaier aan, sit die beskuit terug en bak 6 uur of tot heeltemal droog.

Deur Hope Malau

Foto: Megan Miller