Maak 1 groot laagkoek. Die voorbereidingstyd is 20 minute en die baktyd is 25–30 minute.

KOEK: 225 g botter; 250 g (1¼ k) strooisuiker; 4 eiers; 210 g (1½ k) koekmeel; 5 ml (1 t) bakpoeier; 30 ml (2 e) melk; 5 ml (1 t) vanielje-geursel.

VULSEL: 200 ml room, verkoel; 15 ml (1 e) strooisuiker; 5 ml (1 t) vanieljegeursel; 45 ml (3 e) framboos- of appelkooskonfyt; versiersuiker vir versiering.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer en voer twee koekpanne van 20 cm, of drie van 15 cm, met bakpapier uit.

KOEK: Gooi die botter en strooisuiker in die mengbak van ’n elektriese menger, gebruik die menger se klitser en verroom dit saam tot lig en romerig. Voeg dan die eiers een vir een by; onthou om die kante van die bak gereeld skoon te skraap. Sif die meel en bakpoeier saam. Vou die meelmengsel, melk asook die vanieljegeursel by die eiermengsel in.

Verdeel die koekbeslag tussen die voorbereide panne en bak 25–30 minute of tot die koek goud van kleur is en terugwip wanneer jy liggies in die middel daarop druk. Keer op ’n draadrak uit en laat heeltemal afkoel.

VULSEL: Klop die room, strooisuiker en vanieljegeursel in ’n skoon bak tot dit stywe punte vorm. Smeer die konfyt en roommengsel tussen die lae en plaas dit op mekaar. Sif die versiersuiker oor die bokant van die koek en sit voor.