Pole se mees tipiese Paaskoek, die Babka, wat letterlik “ouma” in Pools beteken, word eintlik wêreldoor gebak, met miskien ’n kinkel hier en daar. Dié ryk suurdeegbroodkoek word in Rusland ’n Koelisj en in die Oekraïne, Paska genoem.

Daar word dit, net soos in Amerika, in ’n blik gebak wat dan tipies lyk soos die bolla van ’n ouma. Meestal word versiersuiker oorgesif of oorgedruppel. Dit word gewoonlik op die Vrydag voor Paassondag gebak. In Rusland (en Oekraïne) bring gesinne die Paaskoek en Pasjka (’n ongebakte kaaskoek) na die kerk sodat die priester dit net voor middernag kan seën.

Omtrent die hele Sondag word om die tafel deurgebring met die hoogtepunt die voorsit van die koelisj. Tradisioneel word die letters XB (Christos Woskres – Christus het opgestaan) met versuikerde vrugte op die koek geskryf.

Lewer 6-8 klein paaskoeke of 1 grote

Voorbereiding: 50 minute

Rystyd: sowat 3 uur

Baktyd: 25-60 minute

KOEK

125 ml (½ k) melk

30 ml (2 e) heuning

30 ml (2 e) olie

5 x 250 ml (5 k) koekmeelblom, twee keer gesif

80 ml (? k) louwarm water

20 g (2 pakkies) aktiewe droëgis

9 eiergele

375 ml (1½ k) suiker

5 ml (1 t) vars gerasperde neutmuskaat

5 ml (1 t) fyn kardemom

5 ml (1 t) vanieljegeursel

30 ml (2 e) brandewyn

gerasperde skil en sap van 1 lemoen

225 g botter, gesmelt en tot louwarm afgekoel

125 ml (½ k) geel sultanas

125 ml (½ k) geroosterde amandels, fyn gekap

2 ml (ruim ¼ t) amandelgeursel

1 eierwit

VERSIERSEL

540 ml versiersuiker

45 ml (3 e) water

7 ml (1½ t) vars suurlemoensap

versuikerde vrugte vir versiering

Smeer ’n skoon 750 g-koffieblik of middelslag-soufflébak (of gebruik 6-8 ramekins) met botter of margarien of spuit met kossproei. Vou bakpapier om die blik of bak om die rand met 15 cm te verhoog.

KOEK 

Giet die melk in ’n kastrol en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verwyder van die stoofplaat, voeg die heuning en olie by en roer tot die heuning gesmelt het. Voeg 125 ml (½ k) van die meel geleidelik by en klits tot die mengsel heeltemal glad is. Laat afkoel tot louwarm. Giet die louwarm water in ’n groot mengbak, roer die gis by en laat staan tot skuimerig – ongeveer 5 minute. Voeg die melk-en-meelmengsel by die gis en roer tot glad. Bedek met ’n teedoek en laat ongeveer 1 uur op ’n warm plek rys tot dubbel die volume.

Klits die eiergele en suiker in ’n aparte bak tot dik en lig van kleur. Voeg die speserye, vanieljegeursel, brandewyn en lemoenskil en -sap by en klits tot goed gemeng. Roer die botter, sultanas, amandels en amandelgeursel by die mengsel in. Klits die eierwit tot sagte punte begin vorm en vou by die eiergeelmengsel in. Voeg die gerysde insuursel by die eiermengsel en meng versigtig maar deeglik. Meng die res van die meel geleidelik in met ’n elektriese klitser en klits tot ’n baie gladde, sagte deeg. Plaas die deeg in ’n skoon, goed gesmeerde bak, bedek met kleefplastiek en laat ongeveer 90 minute rys op ’n warm plek tot dubbel die volume.

Knie die deeg af en plaas dit in die blik of bak. Bedek en laat dit weer ongeveer 45 minute rys tot dubbel die volume.

Voorverhit intussen die oond tot 180 °C. Bak 1 uur (ramekins gaan sowat 25 minute bak) of tot goudbruin en gaar en tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat eers effens in die houer afkoel voor dit uitgekeer word. Verwyder die bakpapier en laat heeltemal op ’n draadrak afkoel.

VERSIERSEL

Meng die versiersuiker, water en suurlemoensap tot glad en giet oor die koek. Laat dit in dun straaltjies teen die kant afloop. Versier met die versuikerde vrugte.