Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 20-30 minute

3-4 appels

300 g skilferkorsdeeg

40 g koue, ongesoute botter, in

dun skywe gesny

80 ml (1/3 k) strooisuiker

1 ml (1/4t) Chinese Five Spicespeserypoeier

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Skil die appels, sny in kwarte en verwyder die pitte. Laat staan die appelkwarte ’n paar minute.

Dit gaan ’n bietjie verkleur, maar moenie te veel daaroor bekommerd wees nie, want die karamelsous sal dit bedek.

Rol die skilferkorsdeeg liggies uit op ’n meelbestrooide oppervlak en sny ’n sirkel van sowat 23-24 cm uit. (Dit moet dieselfde grootte wees as die pan wat jy gaan gebruik.)

Prik die deeg liggies met ’n vurk en plaas die deegsirkel op ’n meelbestrooide bord of skinkbord en laat rus in die yskas.

Verhit die botter en strooisuiker in ’n pan (23-24 cm) met ’n oondvaste handvatsel en roer tot al die suiker gesmelt is.

Voeg die appelkwarte en Chinese Five Spice-speserypoeier by en braai sowat 10 minute of tot die appelskywe goudbruin is aan albei kante. Bedek die pan met die uitgerolde deeg, druk die kante na binne met ’n vurk en bak 15-20 minute of tot die deeg bruin en bros is.

Haal die pan uit die oond, laat staan ’n paar minute en keer die pan om op ’n groot, plat bord.

As van die karamel in die pan vassit, plaas die pan terug op die hitte tot die karamel smelt.

Sny die tert in skywe en sit voor saam met sterk koffie.