Die Khoi-Khoin het aanvanklik nie mielies en graan geken nie. Brood is gemaak van plante waarvan die bolle en wortels gemaal is en wat dan met water of melk gemeng is om ’n koek te vorm wat in warm as gebak is.

Lewer 4 broodkoeke

Bereiding: 15 minute

Staantyd: 30 minute

Baktyd: 30 minute

1 kg klipgemaalde broodmeel

2 pakkies (10 g elk) kitsgis

’n knippie sout

sowat 500 ml louwarm water-en-melkmengsel

heuning en botter (opsioneel)

Meng die meel met die kitsgis en sout. Voeg net genoeg louwarm water en melk by om ’n stywe deeg te maak. Knie dit goed tot die deeg nie meer aan jou hande vassit nie. Laat rus dit sowat 10 minute en vorm dit in groterige bolle. Laat dit weer rus tot dit goed uitgerys is. Skraap van die as weg en pak die brode op die warm as. Krap die brode toe met as en bak dit tot die brode hol klink as jy daarop klop. Haal dit uit die as en klop die as goed af. Sit dit voor met heuning en botter (opsioneel).

Renate Coetzee doen al jare lank navorsing oor kos en dié keer skryf sy oor die Khoi-Khoin-kultuur. Kry meer resepte in die Huisgenoot van 8 Julie 2010.