LEWER 1 KOEK (12-16 SNYE)

Bereiding: 30 minute

Gaarmaaktyd: 20 minute

KOEK

160 ml (2/3 k) melk

60 ml (1/4 k) botter

4 ekstragroot eiers

375 ml (11/2 k) strooisuiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

500 ml (2 k) koekmeel

2 ml (1/2 t) sout

10 ml (2 t) bakpoeier

2 ml (1/2 t) elk van vier verskillende jel-voedselkleursels

botterversiersel (sien wenke)

MERINGUEVERSIERSEL

375 ml (11/2 k) strooisuiker

1 ml (1/4 t) kremetart

80 ml (1/3 k) koue water

knippie sout

2 eierwitte

5 ml (1 t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 200 °C. Spuit vier 20 cmlosboomkoekpanne met kossproei.

  1. KOEK Verhit die melk en botter saam tot net onder kookpunt. Verwyder van die hitte en roer tot die botter gesmelt het. Klits die eiers tot lig. Klits die strooisuiker geleidelik by, gevolg deur die vanieljegeursel. Klits tot die suiker opgelos het. Sif die koekmeel, sout en bakpoeier saam en vou by die eiermengsel in. Klits die lou melkmengsel stadig by.
  2. Verdeel die mengsel gelyk tussen 4 mengbakke en meng ’n kleur by elk. Giet in die koekpanne en bak 15-20 minute tot gaar. Laat effens in die pan afkoel, keer uit en laat heeltemal afkoel.
  3. Gebruik die losboompan se bodem as riglyn en sny die koeke sodat hulle ewe groot en ewe dik is. Smeer botterversiersel tussen die lae en stapel op mekaar.
  4. MERINGUEVERSIERSEL Plaas al die bestanddele in ’n glasbak oor ’n kastrol met kookwater oor matige hitte. Klits 7-10 minute met ’n elektriese klitser tot die mengsel dik en glansend is.
  5. Laat effens afkoel en versier die koeke daarmee. Skroei die meringue effens met ’n blaasvlam indien verkies.

WENKE

  • Botterversiersel: Verroom 125 g botter of wit margarien tot glad. Voeg 250 g gesifte versiersuiker geleidelik by. Klits tot lig en donsig. Voeg ’n bietjie melk of kookwater (15-25 ml/3-5 t) geleidelik by tot die mengsel dik en smeerbaar is. Klits 5 ml (1 t) vanieljegeursel by.
  • Maak dubbel soveel beslag aan vir ’n koek met 5 of 6 lae.
  • As jy nie ’n blaasvlam het nie, kan jy die koek aan die einde ’n paar minute onder ’n warm oondrooster plaas.