Genoeg vir 8 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 30 min.

500 ml (2 k) meel, plus ekstra vir bestuif

7 g droë gis

2 knippies sout

5 ml (1 t) strooisuiker

60 ml (¼ k) melk

30 ml (2 e) ekstrasuiwer olyfolie, plus ekstra vir gaarmaak

150 ml louwarm water

100 g botter

’n hand vol pietersielie, gekap

sap van ½ suurlemoen

1. Plaas die meel in ’n groot mengbak. Roer die gis, ’n knippie sout, suiker, melk en olie met ’n houtlepel in en voeg dan die water by. Meng saam en keer dan die mengsel uit op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is en knie 10 min.

2. Sodra die deeg glad en syagtig voel, plaas dit in ’n gesmeerde bak en laat 1 uur op ’n warm plek rys.

3. Plaas die gerysde deeg op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en vou tot die lug heeltemal uitgedruk is. Verdeel in 8 stukke en rol dan in balle.

4. Rol die balle met ’n rolstok in platbrode. Smeer ’n bakplaat en pak dan die brode op die plaat. Bedek met ’n teedoek.

5. Verhit die ekstra olie in ’n groot braaipan oor matig-lae hitte. Plaas 2 brode in die pan, bak 5 min. tot deurgaar en keer dan om. Braai nog 3 min., haal uit en sit op die bakplaat. Herhaal met al die brode.

6. Voeg botter in die pan tot dit gesmelt het en laat dit dan effens afkoel. Roer die pietersielie, suurlemoensap en ’n knippie sout in.

7. Bedruip die platbrode met die bottermengsel en sit voor.

Deur Hope Malau

Foto’s: David Briers