Lewer 1 groot brood

Bereidingstyd: 20-30 minute

Rystyd: 40 minute

Baktyd: 15-20 minute

BROOD

750 g (51/3 k) witbroodmeel

5 ml (1 t) sout

10 g (1 pakkie) kitsgis

5 ml (1 t) suiker

375 ml (1½ k) louwarm water

BOLAAG

2 rooi soetrissies

15 kersietamaties

olyfolie

balsemieke asyn

20 swart olywe, ontpit

3 wiele fetakaas, in stukke gebreek

45 ml (3 e) kappertjiesaad

60 ml (¼ k) basiliepesto

vars basilie

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n groot bakplaat.

Brood Meng die meel, sout, gis en suiker in ’n mengbak. Voeg die water by en meng tot ’n stywe deeg.

Knie 10 minute tot die deeg glad en elasties is.

Bedek met kleefplastiek en laat ’n halfuur op ’n warm plek staan en rys.

Knie die deeg af en rol dit tot ’n dikte van sowat 2 cm op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Plaas op die bakplaat en laat 10 minute staan en rys.

Bak 15-20 minute tot gaar en goudbruin.

Bolaag Rooster die soetrissies in die oond tot geskroei. Haal uit en plaas in ’n plastieksak tot koud. Trek die skille af, verwyder die pitte en sny in repe.

Braai die tamaties in ’n bietjie olyfolie tot die velletjie net oopbars.

Plaas die soetrissies en tamaties in ’n bakkie en bedek met olyfolie en asyn. Laat staan om te marineer.

Dreineer die soetrissies en tamaties en rangskik dit saam met die olywe en fetakaas op die brood.

Sprinkel die kappertjiesaad oor en skep hopies pesto bo-op. Garneer met vars basilieblare.