Dit is ’n basiese witbroodresep dié en sy geheim is om die deeg baie goed in ’n broodmenger te knie. (’n Voedselverwerker werk net so goed.)

Lewer 1 groot brood Bereidingtyd: 15 minute Staantyd: sowat 40 minute Baktyd: sowat 1 uur

  • margarien vir smeer
  • 1 kg witbroodmeel
  • 7 ml (1½ t) suiker
  • 5 ml (1 t) sout
  • 10 g (1 pakkie) kitsgis
  • 500-600 ml louwarm water
  • olie vir smeer
  • growwe sout en vars kruie vir oorstrooi

Smeer een groot broodpan (33 x 11 cm), ’n groot oondvaste pot of ’n swartpot goed met margarien.

1 Meng die droë bestanddele in ’n groot bak en giet net genoeg louwarm water by om ’n kniebare deeg te vorm. Meng goed.

2 Verwyder uit die bak en knie minstens 10 minute op ’n gelyk, gladde oppervlak of tot die deeg glad en elasties is en nie meer aan jou hande vassit nie. (Hoe langer jy knie, hoe beter.) Smeer ’n glasbak liggies met die olie en plaas die deeg daarin. Smeer die boonste deel van die deeg liggies met die olie en bedek met kleefplastiek. Laat die deeg 10-15 minute op ’n warm plek rys.

3 Knie die deeg af. 4 Vorm in ’n brood en plaas in die bereide pan of pot met die “voukant” na onder. Bedek ligweg met ’n doek en laat sowat 20-30 minute rys tot dubbel die grootte. Voorverhit die oond tot 180 °C. Sprinkel die growwe sout en vars kruie oor en bak sowat 1 uur of tot gaar. Smeer met die margarien of olie indien verkies. Laat staan ’n paar minute in die pan en keer die brood dan uit op ’n afkoelrakkie. Bedek met ’n doek terwyl dit afkoel. Sit louwarm of koud voor, in snye saam met botter, heuning en kaas. WENKE

  • Hoe toets jy om te weet of dit gaar is? Klop met jou middelvinger teen die kors. Indien dit ’n hol geluid maak, beteken dit die brood is gaar.
  • Moenie vuurwarm brood dadelik probeer sny nie. Die krummels sal kluitjierig wees.
  • Gebruik broodmeel (nie koekmeel nie) vir brood. Dit word van harder koring gemaak, bevat meer gluten en het dus ’n stewiger tekstuur.
- Daleen van der Merwe