Lewer 1 brood

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 45 minute

125 g botter of margarien

310 ml (1¼ k) strooisuiker

2 eiers, geklits

5 ml (1 t) koeksoda

30 ml (2 e) suurmelk

2-3 ryp piesangs, fyngedruk

5 ml (1 t) vanieljegeursel

375 ml (1½ k) koekmeel

2 ml (½ t) sout

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n middelslag-broodpan of spuit met kossproei. Bestuif met meel.

  1. Room die margarien en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die geklitste eiers by.
  2. Meng die koeksoda en suurmelk en voeg by die bottermengsel.
  3. Roer die piesangs en vanieljegeursel by.
  4. Sif die meel en sout oor en vou in.
  5. Skep in die voorbereide pan en bak 45 minute of tot gaar en ’n toetspen skoon uit die middel van die broodjie kom. Laat effens afkoel en keer uit.
  6. Laat afkoel op ’n draadrakkie. Sny in skywe en sit voor met botter.