Smelt die kaneelsuiker in die peersap in terwyl die tert bak om ’n heerlike stroop te vorm.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 min.

Verkoel: 30 min.

Bak: 30 min.

DEEG

250 g botter, gerasper

125 g suiker

1 eier

750 ml (3 k) meel

5 ml (1 t) bakpoeier

1 eiergeel

VULSEL

800 g pere

125 g suiker

5 ml (1 t) kaneel

45 ml (3 e) rosyne

  1. Deeg: Klits die botter, suiker en eier saam. Voeg die droë bestanddele by en bring die deeg bymekaar. Voer ’n tertpan met die deeg uit en prik gate in die bodem met ’n vurk. Plaas in die yskas en laat ’n halfuur verkoel. Draai die oorblywende deeg in kleefplastiek toe en verkoel tot nodig.
  2. Voorverhit die oond tot 180 °C en bak die deeg 10 minute. Verf die deeg met eiergeel en plaas nog 5 minute in die oond.
  3. Vulsel: Rangskik die pere in die deegdop en strooi die suiker, kaneel en rosyne daaroor. Rasper die oorblywende deeg oor die vrugte.
  4. Bak ’n kwartier en sit dadelik voor.