“ ’n Mens kan nie in Hillside vir mense koffie en tee voorsit as jy nie kaaskoek het nie – mense wat lekker gesels, én lekker luister, veral na die tafel langsaan, het lus om te peusel, en dit lyk my kaaskoek het omtrent ’n nasionale gewoonte geword.

"Vir elke versoek vir melktert is daar nege vir kaaskoek. Ek kan verstaan hoekom – my kaaskoeke is altyd ryk en romerig, maar dit voel nooit of die vulsel agter aan jou voortande vasplak en nie wil afkom nie,” sê Charmaine.

Bereiding: 25 minute

Verkoeltyd: 25 minute

Rustyd: 30 minute

Baktyd: 80 minute

Genoeg vir 1 groot koek

KORS

90 g botter

25 ml (5 t) strooisuiker

25 ml (5 t) olie

1 eier

200 g (375 ml) koekmeel

8 ml (ruim 1½ t) bakpoeier

1 ml (¼ t) sout

KAASKOEK

4 eiers

250 ml (1 k) suiker

60 ml (¼ k) suurlemoensap

3 x 250 g gladde maaskaas

250 ml (1 k) room

125 ml (½ k) koekmeel

vars bessies vir versiering

Voorverhit die oond tot 180 °C.

KORS

Klits die botter en suiker saam tot lig en romerig.

Voeg die olie en eier by en meng goed.

Sif die meel, bakpoeier en sout by en meng goed.

Druk die deeg teen die kante en teen die boom van ’n diep 23 cmdeursnee- veerklampkoekpan vas.

Maak die rande netjies en skraap tot 5 mm van die borand gelyk.

Prik die kors en verkoel 30 minute.

Bak die kors 10 minute blind en laat afkoel voor die vulsel ingeskep word.

En moenie haastig raak nie. Laat dit regtig afkoel!

KAASKOEK 

Klits die eiers en suiker tot lig en romerig.

Voeg die suurlemoensap, maaskaas, room en koekmeel by en klits goed.

Giet die beslag in die gebakte kors en bak 10 minute by 180 °C.

Verlaag die temperatuur tot 120-130 °C en bak nog 1 uur tot die vulsel stewig maar effens sag in die middel is.

Laat heeltemal afkoel.

Verwyder die pan en plaas in die yskas.

Versier met bessies en sny in skywe.