Dis geen gewone kaaskoek dié nie! Terwyl jy daaraan smul, sal jy elke af en toe op ’n klein sjokoladeverrassing afkom.  

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 min.

Verkoel: 3 uur

KORS

300 g sjokolade-volgraankoekies

150 g botter, gesmelt

VULSEL

15 ml (1 e) gelatien

250 ml (1 k) room

2 bakkies (230 g elk) roomkaas

100 g strooisuiker

2 stawe (55 g elk) Bar-One-sjokolade, in skywe gesny

VIR VERSIER

ekstra Bar-One-sjokolade, in skywe gesny

kakaopoeier

  1. Kors: Druk die koekies fyn. Voeg die gesmelte botter by en meng goed. Druk op die bodem en teen die kante van ’n 22 cm-veerkoekpan vas. Bedek met kleefplastiek en verkoel in die yskas tot benodig.
  2. Vulsel: Bedek die gelatien met 30 ml (2 e) water en laat swel. Verhit dan ’n paar minute in die mikrogolf tot gesmelt. Sit eenkant om af te koel.
  3. Klits die room tot styf.
  4. Klits die roomkaas en strooisuiker saam in ’n ander bak.
  5. Vou die room in die roomkaasmengsel in. Meng ’n bietjie van die mengsel in die gelatienmengsel in, roer goed en voeg dan by die oorblywende roomkaasmengsel. Meng goed. Roer die gesnyde sjokoladestawe in.
  6. Giet die vulsel in die voorbereide kors. Verkoel 3 uur of tot geset in die yskas.
  7. Vir versier: Bedek met die ekstra skywe Bar-One-sjokolade en bestuif met die kakaopoeier.
  8. Sny met ’n warm mes.

Deur Hope Malau