Lewer 13

Bereiding: 15 min.

Rus: 1 uur

Gaarmaak: 15 min.

10 g kits droë gis

15 ml (1 e) louwarm water

125 ml (½ k) louwarm melk

30 ml (2 e) strooisuiker

50 g botter, gesmelt

500 ml (2 k) meel

2 eiers

olie vir braai

KARAMELSOUS

250 ml (1 k) strooisuiker

80 g botter

125 ml (½ k) room

2,5 ml (½ t) sout

  1. Plaas die gis, water, melk en 15 (1 e) strooisuiker in ’n groot bak en sit vir 10 min. op ’n warm plek of tot borrels op die oppervlak verskyn.

  2. Voeg die botter, meel, eiers en oorblywende strooisuiker by die gismengsel en meng tot ’n klewerige deeg vorm. Keer uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en knie tot glad.

  3. Plaas die deeg in ’n bak wat liggies geolie is, bedek met kleefplastiek en sit vir 45 min. op ’n warm plek of tot die grootte verdubbel het.

  4. Knie die deeg 5 min. of tot glad en elasties op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Rol in porsies so groot soos ’n klein tennisbal en plaas op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Sit eenkant vir 15 min. of tot gerys.

  5. Braai die oliebolle 2 min. of tot goudkleurig in ’n groot pot half vol olie oor matige hitte. Dreineer op papierhanddoek.

  6. Karamelsous Plaas die strooisuiker in ’n kastrol oor matige hitte en draai die pot terwyl die suiker smelt. Laat kook tot ’n amber kleur sonder dat dit brand.

  7. Voeg dadelik die botter by en roer tot heeltemal gesmelt. Giet die room stadig in en roer tot die mengsel goed gemeng is. Sit eenkant en roer die sout in. Wanneer heel afgekoel, giet oor die oliebolle.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan