LEWER 4 KLEIN TERTJIES VAN 15 CM

Bereiding: 45 minute

Baktyd: 15 minute

KORS

125 g botter teen kamertemperatuur

100 g suiker

1 eier, lig geklits

275 g koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

knippie sout

VULSEL

1 L (4 k) melk

25 g botter

2 eiers, geskei

1 eier, ongeskei

150 g suiker

60 ml (¼ k) koekmeel

60 ml (¼ k) mielieblom

knippie sout

kaneel vir oorstrooi

Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer 4 losboomtertpannetjies van 15 cm elk.

  1. KORS Verroom die botter en suiker tot lig en voeg die eier by. Klits goed. Sif die meel, bakpoeier en sout by die mengsel. Roer liggies tot ’n deeg vorm.
  2. Voer die tertpannetjies so dun moontlik met die deeg uit. Maak die rande netjies. Bak die deegdoppe 10-12 minute tot gaar.
  3. VULSEL Verhit die melk en botter in die kastrol en laat kook.
  4. Klits die eiergele en ongeskeide eier en voeg die suiker, meel, mielieblom en sout by om ’n pasta te vorm. Voeg ’n bietjie van die warm melk by die eiervlapasta en meng goed. Voeg die pasta by die warm melk en roer oor matige hitte tot die mengsel verdik het.
  5. Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en vou dit by die vlamengsel in. Skep in die tertdoppe en strooi kaneel oor.