LEWER 1 vierkantige koek

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: sowat 55 minute

(baktyd en lemoenbotter)

KOEK

375 ml (1½ k) suiker

125 g botter

15 ml (1 e) gerasperde lemoenskil

625 ml (2½ k) koekmeel

11 ml (2¼ t) bakpoeier

2 ml (½ t) sout

1 ml (¼ t) koeksoda

60 ml (¼ k) lemoensap

180 ml (¾ k) water

4 eierwitte

LEMOENBOTTER

60 g botter

80 ml (¹/³ k) lemoensap

skil van 1 lemoen

2 eiers

250 g suiker

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Smeer ’n vierkantige koekpan van 23 x 23 x 5 cm.

  1. KOEK Room 250 ml van die suiker en botter tot lig en romerig en voeg die lemoenskil by.
  2. Sif die meel, bakpoeier, sout en koeksoda saam. Voeg in kwarte by die bottermengsel, afgewissel met die lemoensap en water. Meng goed.
  3. Klits die eierwitte styf en voeg die res van die suiker (125 ml) stadig by. Vou by die meelmengsel in.
  4. Skep in die pan en bak 40 minute. Laat op ’n draadrak afkoel. Halveer.
  5. LEMOENBOTTER Plaas al die bestanddele in ’n glasbak oor ’n kastrol met kookwater. Verhit tot die mengsel verdik – sowat 15 minute – terwyl jy aanhou roer.
  6. Smeer die botter bo-op elke koekhelfte en plaas die helftes bo-op mekaar.

Sny in blokkies om voor te sit.