DIE UITDAGING – EPISODE 8: Wildsgeregte en ’n haashappie moet aan die jagters voorgesit word.

Omdat wildsvleis van nature maer vleis is, verleen die bykos met kaas ’n weelderigheid op die tong. Ida sê daar is geen rede om skrikkerig te wees om hierdie soufflé te maak nie. Dit kan ook maklik weer warm gemaak word.

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 20-25 minute

botter, vir ramekins smeer

30 g broodkrummels

100 g botter, vir smelt

100 g koekmeel

200 ml melk

20 g bloukaas, gekrummel

100 g parmesaankaas, gerasper

sout en peper na smaak

6 eiergele, lig geklits

6 eierwitte

Voorverhit die oond tot 180 °C.

1 Smeer die ramekins met die botter en strooi die krummels binne-in. Draai die bakkies sodat die rande goed bedek word met die krummels.

2 Smelt die 100 g botter, voeg die meel by en roer sowat 1 minuut. Haal van die plaat af, roer die melk geleidelik by, sit terug op die plaat en kook tot dik terwyl jy aanhoudend roer. Vou die kase, sout en peper en eiergele in. Laat effens afkoel.

3 Klits die eierwitte in ’n skoon glasbak tot dit net-net sy vorm begin hou. Vou dit liggies deur die witsous.

4 Skep in die voorbereide bakkies en bak sowat 15 minute. Haal uit. Dit kan later weer warm gemaak word.