Lewer 25 koeksisters

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 35 min.

Stroop

500 ml (2 k) water

1 kg suiker

knippie sout

10 ml (2 t) kremetart

1 kaneelstokkie

Deeg

1 L (4 k) bruismeel

knippie sout

50 g botter

25 ml (5 t) bakpoeier

60 ml (¼ k) suiker

200 ml (¾ k) melk

2 eiers

olie vir diepbraai

1. Stroop Verhit die water tot warm en voeg die res van die bestanddele by. Laat kook en verlaag dan die hitte en laat prut 10 min. terwyl jy roer om seker te maak al die bestanddele los op. Verwyder die stroop van die hitte en laat afkoel tot kamertemperatuur voor jy dit in die yskas plaas. Los die kaneelstokkie in die stroop.

2. Deeg Meng die droë bestanddele in ’n mengbak. Vryf die botter met jou vingers in die deeg. Voeg die melk en eiers by en meng deeglik. Rol die deeg in ’n bal, bedek met kleefplastiek en plaas dit minstens 30 min. in die yskas.

3. Rol die deeg uit en sny in stroke van 1 cm x 8 cm. Neem drie stroke, druk die punte aan die een kant saam en vleg. Druk daarna die ander kant se punte saam.

4. Verhit ’n pan met die olie oor lae hitte tot dit begin knetter wanneer jy ’n klein stukkie deeg daarin drup.

5. Plaas die bak met die koue stroop binne-in ’n ander bak wat met yswater gevul is om die stroop koud te hou.

6. Maak die koeksisters in die warm olie gaar tot alkant goudbruin. Skep hulle met ’n gaatjieslepel uit die warm olie en plaas hulle dadelik in die koue stroop. Los hulle so lank moontlik daar. Maak nog koeksisters gaar en wanneer jy nie meer plek in die stroopbak het nie, haal dié uit wat die langste in die stroop gelê het en plaas hulle op ’n draadrak.

Deur Hope Malau

Foto: David Briers