Die Kaapse koekbakspan Mari-Louis Guy en haar broer, Callie Maritz, se eetgoed vir teetyd is onweerstaanbaar lekker (en mooi). Hierdie resep is afkomstig van hul derde boek, Cakebread Pudding & Pie.

Genoeg vir 12-15 tertjies

Bereiding: 30-40 minute

Staantyd: 30 minute

Gaarmaaktyd: sowat 20 minute

TERTDOPPIES

400 g broskorsdeeg

BAKKERSVLA

500 ml (2 k) melk

1 vanieljepeul, oopgesny

6 eiergele

120 ml strooisuiker

60 ml (¼ k) meel

SAMESTELLING

vars bessies

vars kruisementblare

Voorverhit die oond tot 200 °C.

TERTDOPPIES

Rol die deeg liggies uit op ’n meelbestrooide werkoppervlak.

Sny die deeg in kleiner stukkies en voer klein tertpannetjies uit met die deeg.

Prik die deeg met ’n vurk en bedek met ’n stukkie bakpapier.

Vul die holtes met droë bone of rys en laat rus die tertdoppies sowat 30 minute in die yskas.

Bak die tertdoppies sowat 10 minute blind.

Verwyder die bakpapier en bone of rys en bak nog ’n paar minute tot ligbruin en gaar.

Laat staan ’n paar minute voor jy dit uit die pannetjies haal.

Laat die tertdoppies heeltemal afkoel.

BAKKERSVLA

Giet die melk saam met die vanieljepeul se saadjies in ’n kastrol en bring die melk tot kookpunt.

Hou eenkant.

Meng die eiergele, suiker en meel in ’n mengbak tot glad.

Giet die warm melk by die eiergeelmengsel en klits die hele tyd.

Giet die melk-en-eiermengsel deur ’n sif en giet dit terug in die kastrol waarin die melk was.

Bring die mengsel tot kookpunt en roer aanhoudend tot dit verdik.

Giet die verdikte bakkersvla in ’n glasbak sodat dit heeltemal kan afkoel.

SAMESTELLING

Vul die gebakte tertdoppies met die bakkersvla en versier met bessies en vars kruisementblare.

WENK: Die gebakte tertdoppies hou baie goed in ’n houer wat dig seël – of verf elke doppie met gesmelte sjokolade en bêre ’n paar weke.

Volg Huisgenoot op Twitter.