Genoeg vir: 12

Bereiding: 15 min.

Bak: 12 min.

500 ml (2 k) bruismeel

50 g botter

45 ml (3 e) strooisuiker

2,5 ml (½ t) bakpoeier

1 ml (¼ t) sout

50 g marsepein, in blokkies gesny

100 g droëvrugte-koekmengsel

80 ml (? k) melk plus ekstra vir borsel

60 ml (¼ k) brandewyn

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n bakplaat liggies.

1. Gooi die bruismeel in ’n groot bak. Sny die botter in blokkies en voeg dit by die meel. Vryf die botter liggies in die meel tot dit soos broodkrummels voel.

2. Voeg die strooisuiker, bakpoeier, sout, marsepein en koekmengsel by die meel en botter. Roer vinnig om te verseker al die bestanddele is eweredig versprei.

3. Maak ’n gat in die middel en skink die melk en brandewyn daarin. Meng die melk en brandewyn met jou hande so liggies moontlik met die droë bestanddele tot goed gemeng.

4. Strooi meel op ’n werkoppervlak, sit die deeg daarop en druk dit plat.

5. Gebruik ’n ronde koekiesnyer om die deeg te druk en lig liggies ’n skon uit. Plaas dit op die bakplaat. Sny soveel skons uit as wat jy kan. Vorm dan ’n bal met die oorblywende deeg, druk dit plat en herhaal die uitdrukkery tot al die deeg gebruik is. Borsel ’n bietjie melk liggies oor elke skon.

6. Plaas in die oond en bak 12 min. tot gaar. Haal uit die oond en plaas op ’n draadrak om af te koel.

Resepte: Carmen Petersen

Kook & stilering: Hope Malau

Foto’s: Megan Miller