Hierdie uitmekaartrek-brioche sal twee dae in ’n lugdigte houer vars bly – as jy en jou gesin die versoeking kan weerstaan om dit sommer op een slag te verorber nie! .

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 20 min.

Rys: 2 uur

Bak: 35 min.

10 g droë gis

15 ml (1 e) louwarm water

60 ml (¼ k) strooisuiker

1 ml (¼ t) sout

30 ml (2 e) louwarm melk

500 ml (2 k) meel, plus ekstra vir knie

2 eiers, liggies geklits

225 g botter, gekap en versag

60 ml (¼ k) suiker

45 ml (3 e) fyn kaneel

ekstra eier, geklits, vir verf

  1. Gooi die gis en water in ’n bak en roer om te meng. Sit 5 minute eenkant op ’n warm plek of tot borrels op die oppervlak vorm.
  2. Meng die strooisuiker, sout en melk in ’n ander bak.
  3. Sit die meel in ’n derde bak en meng die gismengsel en eiers 3 minute of tot deurgemeng.
  4. Voeg die melkmengsel by en meng tot die deeg van die kant van die bak af wegtrek. Voeg die botter geleidelik by en roer tot glansend en elasties.
  5. Sit die deeg in ’n skoon bak en bedek met kleefplastiek. Laat staan 2 uur eenkant op ’n warm plek of tot die deeg verdubbel het.
  6. Smeer ’n 22 x 8 cm-broodpan liggies.
  7. Verdeel die deeg in agt ewe groot balle en knie elkeen tot glad op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is.
  8. Meng die suiker en kaneel in ’n vlak bak en rol elke bal in die mengsel.
  9. Pak die balle styf teen mekaar in die voorbereide broodpan, bedek met ’n skoon, klam lap en sit 30 minute eenkant of tot verdubbel.
  10. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  11. Verf die deeg met die ekstra geklitste eier en bak 35 minute of tot goudkleurig.

Deur Hope Malau

Foto: Jacques Stander