Lewer 18 rolletjies

Bereiding: 20 min.

Rys: 1 uur 30 min.

Gaarmaak: 30 min.

4 eiergele

1 eier

60 ml (¼ k) suiker

100 g botter, gesmelt

160 ml (2/3 k) karringmelk

1 L (4 k) meel

15 g kits droë gis

1 ml (¼ t) sout

olie

VULSEL

250 ml (1 k) bruinsuiker

30 ml (2 e) fyn kaneel

’n knippie sout

20 g botter, gesmelt

VERSIERSEL

60 ml (¼ k) roomkaas, versag

45 ml (3 e) melk

250 ml (1 k) versiersuiker

Voorverhit die oond tot 180°C.

  1. Klits die eiergele, eier, suiker, gesmelte botter en karringmelk in ’n bak. Voeg 500 ml (2 k) van die meel by saam met die gis en sout en roer tot gemeng. Voeg die oorblywende meel by en knie 5 min. Toets die digtheid van die deeg en voeg nog  meel by indien nodig (die deeg moet sag en klam voel, maar nie klewerig nie).
  2. Keer die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en knie 5 min. liggies. Smeer ’n groot bak liggies met die olie. Plaas die deeg in die bak, smeer die bokant van die deeg liggies met die olie, bedek en laat rys 1 uur tot die grootte verdubbel het.
  3. Vulsel Meng die bruinsuiker, kaneel en sout in ’n middelslagbak. Meng goed en sit eenkant.
  4. Keer die deeg uit op ’n werkoppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Vorm die deeg sagkens in ’n reghoek met die lang kant naaste aan jou. Verf die deeg met die gesmelte botter, maar laat ’n strook oop om die boonste rand. Strooi die vulselmengsel oor die deeg.
  5. Begin met die lang kant naaste aan jou en rol die deeg in ’n stywe silinder. Knyp die soom stewig vas om te verseël en rol die silinder met die soomkant na onder. Druk die silinder baie liggies om egalige dikte te skep. Sny die silinder in rolletjies met ’n getande mes. Rangskik die rolletjies met die snykant na onder op die bakplaat, bedek en los 30 min. op ’n warm plek. Bak 30 min. of tot goudkleurig.
  6. Versiersel Klits die roomkaas en melk en sif die versiersuiker oor. Klits tot glad. Smeer oor die rolletjies en sit voor.

Deur Hope Malau

Foto: David Briers