• Hierdie blokkies verg heelwat minder werk as regte ystervarkies. Dit vries ook goed.
  • Verdubbel die resep en vries dit vir onverwagte gaste of as iets lekkers vir die kosblik.

Lewer sowat 36 blokkies

Bereiding: 20 minute

Baktyd: 15-20 minute

Koek

2 eiers

250 g suiker

150 g margarien, gesmelt

150 ml melk

5 ml (1 t) karamelgeursel

250 g bruismeel

30 ml (2 e) kakao

knippie sout

Versiersel

5 ml (1 t) koffiepoeier

100 ml kookwater

175 g versiersuiker, gesif

100 g margarien, gesmelt

30 ml (2 e) kakao

5 ml (1 t) karamelgeursel

klapper om bo-oor te sprinkel

Voorverhit die oond tot 200 °C Smeer ’n oondpan van 29 x 23 cm

  1. Koek Klits die eiers en suiker saam tot lig en dik.
  2. Meng die margarien en melk. Voeg die geursel by.
  3. Sif die droë bestanddele en vou om die beurt met die melkmengsel by die eiermengsel in.
  4. Skep in die voorbereide pan en bak 15-20 minute of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
  5. Versiersel Meng al die bestanddele saam en smeer oor die koek sodra dit uit die oond kom. Laat intrek, sny in blokkies en besprinkel met klapper.