Indien jy nie kans sien vir skilferkorsdeeg nie, vervang dit met madeira- of sponskoek.

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 15-20 minute

Gaarmaaktyd: sowat 20 minute

SUURLEMOENSMEER

120 g botter

sap en skil van 4 suurlemoene

4 ekstragroot eiergele

250 ml (1 k) suiker

TERTJIES

400 g skilferkorsdeeg, ontdooi

500 ml (2 k) gemengde droëvrugte

100 ml water

kruisementblare, gekap

jogurt

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Spuit ’n bakplaat met kossproei en hou eenkant.

SUURLEMOENSMEER

Smelt die botter oor baie lae hitte en roer die suurlemoensap en -skil, eiergele en suiker by.

Roer aanhoudend tot die suiker opgelos is en die smeer begin verdik.

Dis belangrik om nie die mengsel te laat kook voor dit heeltemal verdik het nie.

Die eiers kan skif indien dit nog nie heeltemal gaar is nie.

Wees geduldig en roer aanhoudend tot die sous dik, lig van kleur en gaar is.

Hou eenkant en laat afkoel.

TERTJIES

Rol intussen die skilferkorsdeeg liggies uit op ’n meelbestrooide oppervlak en druk sowat 6 sirkels, elk 10 cm in deursnee, uit met ’n koekiedrukker.

Bak 10-12 minute in ’n voorbereide oond en laat afkoel.

Kook intussen die droëvrugte in die water tot sag.

Plaas ’n deegsirkel op elke bord, skep ’n groot lepel vol suurlemoensmeer en vrugte bo-op die skilferkorssirkel en sit voor met gekapte kruisementblare en jogurt.

WENK: Vervang die gestoofde vrugte met ingelegde vrugte – dis nog makliker en vinniger.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Huisgenoot, 1 April 2010.