As jy nog nie voorheen melasse gebruik het nie, soek dit in enige groot winkel langs die strope.

Lewer 24 koekies

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 10 min.

560 ml (2¼ k) meel

10 ml (2 t) fyn gemmer

5 ml (1 t) koeksoda

2,5 ml (½ t) fyn kaneel

1 ml (¼ t) fyn naeltjies

’n knippie sout

150 g botter, versag

250 ml (1 k) suiker

1 eier

15 ml (1 e) water

60 ml (¼ k) melasse

30 ml (2 e) suiker

Voorverhit die oond tot 180 °C.

  1. Sif die meel, gemmer, koeksoda, kaneel, naeltjies en sout by. Sit eenkant.

  2. Klits die botter en 250 ml (1 k) suiker saam tot romerig, lig en donsig. Klits die eiers in en roer dan die water en melasse in.

  3. Roer die gesifte bestanddele geleidelik by die melassemengsel in. Vorm die deeg in balle so groot soos okkerneute en rol dit in die 30 ml (2 e) suiker. Pak die beskuitjies op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is.

  4. Bak 10 min. in die voorverhitte oond. Laat die koekies 5 min. op die bakplaat afkoel voor jy dit op ’n draadrak pak om heeltemal af te koel. Bêre in ’n lugdigte houer.

Deur Hope Malau

Foto/video: Misha Jordaan