Frittata, wat gewoonlik in ’n pan gebak word, word baie keer by ’n laat-ontbyt voorgesit.

Hier gebruik ons die tipiese frittata-bestanddele, maar bak korslose tertjies in muffinpanne wat heerlik is vir aandete saam met slaai.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 5-10 min

Gaarmaaktyd: 30-40 min

Moet-hê bestanddele

4 murgpampoentjies, in repies gesny (of gekapte spinasie)

1 klein blikkie (340 g) heelpitmielies, gedreineer (of gaar aartappels of oorskiet-pasta)

3-4 pikantrissies (rooi en geel) of ’n rooi soetrissie, in blokkies gesny

2 wiele feta-kaas

8-10 eiers

30 ml gekapte vars kruie soos pietersielie, grasuie, basilie en tiemie

sout en peper na smaak

60 ml vars broodkrummels en gerasperde parmesaankaas vir bo-oor

vars slaai om mee voor te sit

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Gebruik ’n muffinpan met 6 diep holtes en smeer die holtes baie goed of spuit met kleefwerende kossproei.

Rangskik die murgpampoentjies in ’n sirkelvorm in die muffinholtes en skep die mielies bo-op.

Sprinkel die pikantrissies en die kaas bo-oor.

Klits die eiers en kruie lig saam, geur met sout en peper en verdeel tussen die holtes.

Sprinkel van die krummelmengsel oor en bak 30-40 minute tot gestol.

Sit louwarm voor met ’n vars slaai, olyfolie en balsemieke asyn.