GENOEG VIR 4-6 MENSE

Bereiding: 15 min.

Rus: 14 uur

Gaarmaak: 15 min.

Giskultuur

280 ml (1¼ k) meel

1 ml (¼ t) droë kitsgis

125 ml (½ k) water

Deeg

375 ml (1½ k) meel

2,5 ml (½ t) droë kitsgis

180 ml (¾ k) water

2,5 ml (½ t) sout

30 ml (2 e) olyfolie

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Giskultuur Meng die meel, gis en water met jou hande in ’n bak. Bewerk sagkens tot goed gemeng. Sit in ’n lugdigte fles en laat staan sowat 12 uur by koel kamertemperatuur tot dit effens gerys het en borrel.
  3. Deeg Klits die meel en gis saam in ’n groot bak. Voeg die water en al die giskultuur by en roer met ’n spatel tot die mengsel ’n deegbal vorm. Bedek met kleefplastiek en laat 20 min. rus.
  4. Keer die deeg sagkens uit op ’n meellose oppervlak. Besprinkel met die sout en bedruip met die olie. Knie met die basis van een hand om die helfte van die deeg weg van jou af te strek terwyl jou ander hand terselfdertyd die ander helfte na jou toe strek. Vou dit in die helfte en herhaal tot die olie heeltemal ingewerk is.
  5. Plaas die deeg in ’n bak wat liggies geolie is en bedek met kleefplastiek wat geolie is. Laat rys 45 min. en keer die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is sonder om die lug uit te knyp. Vou oorkruis in die helfte. Sit terug in die bak, bedek en laat rys minstens 30 min. tot dit amper verdubbel het.
  6. Keer die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en verdeel in 2 ewe groot porsies. Sprei elke porsie deeg in ’n reghoek uit. Vou die deeg in derdes, soos jy met ’n sakebrief sou maak, en druk die nate met vingers wat liggies met meel bestrooi is. Plaas die deeg met die naatkant na onder op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Laat rys tot amper dubbel.
  7. Plaas ’n oondpan met water onder in die oond. Bak die brood 15 min.

Deur Hope Malau

Foto’s: Jacques Stander