Beulah Harris het die resep vir haar heerlike flatervrye brood met ons gedeel. Weet jy hoekom die brood so lekker is? Kaas. Wel, knoffel en olywe ook. Maar die eintlike held is die smeltende kaas.

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 35 minute

Genoeg vir 6 tot 8 mense

500 g bruismeel

1 sakkie (10 g) kitssuurdeeg

5 ml (1 t) droë gemengde kruie

’n knippie sout en peper

300 ml louwarm water

60 ml (¼ k) olyfolie

ekstra meel (vir broodplank en om die deeg te hanteer)

12 ontpitte swart olywe, in skywe gesny

15 ml (1 e) fyngedrukte knoffel

1 wiel camembertkaas, in skywe gesny

Gooi die meel in ’n groot glasbak. Maak met ’n lepel ’n holte in die meel.

Gooi die droë suurdeeg, kruie en sout en peper in die holte, maar moet nog nie roer nie.

Gooi die water en olyfolie in die holte. Roer dit met ’n vurk tot dit begin saamtrek.

Keer dit op ’n plank uit wat met meel besprinkel is.

Besprinkel jou hande met meel. Meng en knie dan die deeg sowat 5 minute tot die deeg elasties is en nie meer aan jou hande kleef nie.

Druk die olywe bietjie vir bietjie in die deeg in.

Rol die deeg in ’n bal, sit dit weer in die bak terug en vryf ’n klein bietjie olyfolie bo-op.

Bedek die bak met ’n klam afdroogdoek en sit dit in ’n warmlaai sodat die deeg 20 minute kan rys.

Voorverhit die oond tot 190 °C. As die deeg gerys het, keer dit op ’n bord uit wat met meel besprinkel is.

Druk dit sagens af in ’n ovaalvorm met ’n dikte van 2 cm.

Smeer met die fyngedrukte knoffel en pak die camembertskywe bo-op. Rol op soos ’n rolkoek.

Bak op ’n voorbereide pan vir 35 minute of tot gaar.

Sit louwarm voor met vrugtekonserf of nog kaas.

WENK: Jy weet die brood is deurgaar wanneer dit ’n hol geluid maak as jy dit onderstebo draai en op die onderkant klop. Laat staan die brood vir minstens 20 minute voor jy dit sny.

Volg Huisgenoot op Twitter.