Lewer 1 middelslagkoek 

Bereiding: 15 min.

Bak: 45 min.

60 ml (¼ k) brandewyn

½ suurlemoen se skil

130 g gemengde droëpruime en rosyne

250 g donkersjokolade

200 g botter

5 eiers, geskei

125 ml (½ k) strooisuiker

5 ml (1 t) fyn kaneel

5 ml (1 t) gemengde speserye

2 ml (½ t) fyn neutmuskaat

’n knippie fyn naeltjies

125 ml (½ k) meel

75 g fyn amandels

kakaopoeier vir bestuif

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakpan van 20 cm met bakpapier uit.

  1. Plaas die brandewyn, suurlemoenskil en speserye in ’n klein kastrol en bring tot kookpunt.
  2. Sit die droëvrugte in ’n bak, giet die gespeseryde brandewyn oor, bedek met kleefplastiek en sit in die yskas tot nodig.
  3. Smelt die sjokolade en botter in ’n bak oor ’n pan pruttende water en roer af en toe tot glad. Verwyder van die hitte.
  4. Klits die eierwitte in ’n skoon bak saam met 15 ml (1 e) van die strooisuiker tot sagte punte vorm.
  5. Klits die eiergele en oorblywende suiker in ’n ander bak sowat 5 min. of tot jy ’n syfer agt daarin kan teken en dit sy vorm behou.
  6. Giet die sjokolade in die geklitste eiergele in en roer om te meng.
  7. Verwerk die geweekde droëvrugte grof in ’n voedselverwerker en vou by die sjokolademengsel in.
  8. Meng die meel en fyn amandel in’n bak en vou by die sjokolademengsel in.
  9. Vou die eierwitte versigtig in drie dele in sodat jy nie enige van die lug verloor wat jy daarby ingeklits het nie.
  10. Giet die mengsel in die voorbereide bakpan en bak sowat 45 min. of tot ’n steekpen skoon uitkom wanneer dit in die middel ingedruk word. Laat die koek effens afkoel, keer op ’n bord uit en bestuif met die kakaopoeier.

Deur Hope Malau

Foto: Jacques Stander