Nellie de Koker van Pretoria het hierdie resep met ons gedeel.

LEWER 1 TERT VAN 23 CM

Bereiding: 20 minute

Baktyd: 45 minute

Staantyd: 10 minute

KORS

165 g koekmeel

100 g heelgraanmeel (Nutty

Wheat)

2 ml (½ t) sout

100 g botter

250 g roomkaas

VULSEL

500 ml (2 k) melk

25 ml (5 t) ui, gerasper

1 lourierblaar

2 naeltjies

25 g botter

20 g koekmeel

sout en vars gemaalde peper na smaak

1 eier, ongeskei

2 eiers, geskei

125 g cheddarkaas, gerasper

250 g biltong, in skryfies gesny

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Smeer ’n tertpan van 23 cm.

  1. Kors Meng die koekmeel, heelgraanmeel en sout in ’n mengbak en vryf die botter met jou vingerpunte in.
  2. Voeg die roomkaas by en meng deeglik. Voer die tertpan daarmee uit en bak 12-15 minute blind.
  3. Vulsel Verhit die melk, ui, lourierblaar en naeltjies saam. Laat dit 10 minute trek en giet deur ’n sif.
  4. Smelt die botter in ’n kastrol en roer die meel by. Hou aan roer tot dit kook. Voeg die warm melk, sout en peper stadig by terwyl jy aanhou roer. Laat prut tot dit verdik. Verwyder van die hitte.
  5. Klits die heel eier saam met die eiergele en roer dit bietjie vir bietjie by die witsous.
  6. Voeg die kaas en biltong by en meng goed.
  7. Klop die eierwitte tot die sagtepuntstadium en vou dit by die mengsel in.
  8. Skep dit op die tertbasis en bak 45 minute tot die vulsel goudbruin is en uitgepof het.
  9. Strooi biltongskyfies oor en sit die tert warm of koud voor.