Johanna Jacobs van Pretoria is nog ’n wenner in ons Le Creuset-kompetisie met hierdie oulike reseppie vir appeltertjies wat jy met baba-appeltjies maak.

Lewer 24 tertjies

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 8-12 minute

4 eiers

180 ml (¾ k) strooisuiker

310 ml (1¼ k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

180 ml (¾ k) margarien, gesmelt

1 blik (400 g) baba-appeltjies, gedreineer

Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n muffinpan met kossproei.

Klits die eiers en strooisuiker vinnig met ’n elektriese klitser tot liggeel. Sif die meel en bakpoeier saam en vou in.

Giet die gesmelte margarien by en klits tot net gemeng.

Vul elke muffinholte halfvol met die beslag en plaas ’n baba-appeltjie in die middel van elk. Herhaal tot die mengsel op is.

Bak 8-12 minute of tot die tertjies gaar is.

Laat afkoel en sit voor saam met tee.

Volg Huisgenoot op Twitter.