Met hierdie koek sny ’n mens kilojoules sonder om lekkerte in te boet

Lewer 1 koek (20 snye)

Bereidingstyd: 15 minute

Baktyd: 40-45 minute

KOEK

125 ml (½ k) kookwater of warm

rooibostee

90 ml (6 e) kakao

60 ml (¼ k) kanola-olie

1 blik (400 g) tertappels, verpulp

375 ml (1½ k) koekmeel

1 ml (¼ t) sout

20 ml (4 t) bakpoeier

125 ml (½ k) hawersemels (oat bran)

3 eiers

125 ml (½ k) strooisuiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

JOGURT-GANACHE

100 g (1 plak) donkersjokolade,

in stukkies gebreek

80 ml (1/3 k) natuurlike jogurt

bessies (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 180 °C. Bespuit ’n koekpan van 21 cm in deursnee.

  1. Koek Meng die kookwater, kakao en olie met ’n draadklitser in ’n kastrolletjie tot glad en laat kook. Koel af.
  2. Voeg die appelmoes by en meng goed.
  3. Sif die koekmeel, sout en bakpoeier twee keer saam. Voeg die semels by en meng.
  4. Klits die eiers tot lig. Voeg die strooisuiker bietjies-bietjies by en klits goed.
  5. Vou die vanieljegeursel en kakaomengsel om die beurt met die meelmengsel by die eiermengsel in.
  6. Skep in die voorbereide pan. Maak die bokant gelyk met ’n effense holte in die middel.
  7. Bak 40-45 minute tot ’n toetspen skoon uit die middel kom.
  8. Laat in die pan afkoel en keer versigtig uit.
  9. Jogurt-ganache Smelt die sjokolade in die mikrogolf of in ’n glasbak oor kookwater en meng vining met die jogurt. Smeer oor die koek. Laat staan tot stewig. Versier met bessies indien verkies.